Soekershof

Wie soek, sal vind! Hierdie manjifieke tuin is waarskynlik enig in sy soort ter wêreld. Verstom jou aan bome wat soos natuurlike standbeelde teen die lug afgeëts staan langs allerhande soorte bekende en onbekende aalwyne, vetplante, kaktusse en euphorbias. Sedert sy beginjare het die tuin ontwikkel in ’n vetplantparadys met honderde verskillende soorte vetplante, insluitende kaktusse. Meer as die helfte is inheems aan Suider-Afrika. Dwaal op die paadjies deur die verskillende dele van die tuin terwyl jy jou verlustig aan die groot verskeidenheid voëls wat oral ronddartel. Die tuin lok ’n groot verskeidenheid van die meer as 200 voëlspesies wat in die omgewing voorkom.

Waar het dit begin?

Marthinus Malherbe, ’n ywerige plantversamelaar, het in die 1950’s met die tuin begin. Hy het ’n groot verskeidenheid kaktussade van die Amerikas ingevoer. Sy vrou Molly het dit geplant en vertroetel, en kort voor lank het ’n unieke tuin tot stand gekom.Ongelukkig, wanneer ’n eiendom van hande verwissel, ly die tuin dikwels daaronder. Ná jare van verwaarlosing het ’n Hollandse egpaar, Yvonne en Herman, in 2001 op Soekershof kom woon en die tuin tot sy vorige glorie herstel en uitgebrei. Dis oopgestel vir die publiek en besoekers kon hulle vergaap aan die anderwêreldse versameling plante.

 

Verandering

In 2011 waai die winde van verandering weer oor Soekershof toe Monika en Axel oorneem. Hulle het ’n vars visie vir die plek as geheel gehad en die potensiaal vir ’n unieke toevlugsoord raakgesien. Die geboue op die eiendom verteenwoordig ’n wye spektrum van Wes-Kaapse argitektoniese en landelike boustyle. Die ou woonhuis dateer byvoorbeeld uit 1798. Met groot sensitiwiteit en sorg het Monika en Axel die uiteenlopende boustyle en die unieke karaktertrekke van die tuin in ’n stylvolle geheel verenig. Al vyf sintuie – sien, hoor, proe, ruik en raak – van gaste word ingespan en geniet wanneer hulle MO & ROSE se WYNBISTRO, GASTEHUIS en TUINWINKEL besoek.